Hulle sing Ou Ryperd en Hasie met oorgawe. Ook Die Stem kry sy beurt. Ou liedjies wat 'n vorige generasie saam met hul Voortrekker-uniforms weggepak het, word nou sonder skroom deur hul kinders in die openbaar gesing.
Praat jy taaldebat, trek die meeste jong mense net die skouers op. Jammer om die neo-stryders en etiket-soekers teleur te stel, maar hulle reken dis dinge vir die ou mense daardie.
Jonges wil áltyd uitgelos word, maar as dit by Afrikaans kom, des te meer. Want hulle is nie bekommerd oor Afrikaans nie. Solank hulle hom kan gebruik, maar dan soos hulle wil.
Dit gaan nie hier soseer oor Engelse woorde waarmee Afrikaans deurspek is nie as oor die verskynsel dat jong Afrikaanssprekendes deesdae gemaklik met hul taal is. Hulle het oënskynlik nie die politieke taalbagasie van vorige generasies nie. Daarom is hulle heel gemaklik om Afrikaans in alle vorme en gedaantes te gebruik.
As dit by musiek kom, sing hulle tot FAK-liedjies iets wat 'n dekade gelede taboe was. Nie om dit op te stuur en te satiriseer soos die alternatiewe Afrikaanse sangers op hul dag gedoen het nie. Bloot omdat dit beskikbaar is.
In studentekroeë naby die RAU en Tukkies sing die jongeling Pieter Smith lustig uit die FAK-sangbundel. Die stampvol kroeg sing uit volle bors saam aan ``Ver in die ou Kalahari'', en ook wanneer hy die temaliedjies van vergange TV-programme soos Heidi uit die geheue opdiep. Op plattelandse feeste, soos die Thabazimbi-wildsfees vroeër vanjaar, lok hy groot saamsingery uit.
Op Hatfield-plein in Pretoria het Koos Kombuis op die Square Tunes-konsert ``Hasie, hoekom is jou stert so kort?'' gesing. Die jong gehoor het eintlik vorentoe geleun oor die reling voor die verhoog soos hulle saamsing . . .
Op Aardklop en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het sangers soos Dozi en Theuns Jordaan oud en jonk se hart warmer laat klop met ``Ou ryperd''.
Op Aardklop het tieners voor die verhoog by die konsert Nag van die Legendes saam met Anton Goosen gesing.
CD's soos Volksbesit, met heropnames van ou bekende liedjies deur 'n nuwer generasie Afrikaanse sangers, verskyn deesdae gereeld.
Dieselfde beginsel is toegepas in die program Die liedjies wat ons ken Dinsdagaande op kykNET. Daarin word die herkoms en agtergrond van dertien Afrikaanse volksliedjies (FAK-liedjies) gegee en deur jong kunstenaars hervertolk.
Sommige van hulle voer die oorspronklike weergawe op hul eie manier uit. Ander torring die lirieke gemaklik los en weef nuwes by. Só het Karen Zoid 'n eie weergawe van ``Vat jou goed (en trek Ferreira)'' geskep wat sommige mense kan laat skeef opkyk.
Sy het juis die eerste keer die aandag getrek met haar dekonstruksie van ``Afrikaners is plesierig''.
Dat só iets met 'n moderne inslag gewild kan wees, is te verstane. Dit hou egter nie daar op nie. Diegene wat deesdae 'n lied in die hart soek, gee nie om wat die oorsprong daarvan is nie, solank hulle net kan saamsing.
Volgens mnr. Nicol Stassen, uitgewer en eienaar van Protea Boekehuis op die Tukkie-kampus se voorstoep, verkoop die FAK-sangbundel verrassend goed onder jong mense. Hy het boonop 'n bestelling vir 6 000 eksemplare ontvang van iemand wat dit gaan herversprei.
``Dié bundel is steeds vol fantastiese poësie,'' sê hy. Geen wonder dit vind ook ingang by jong Afrikaanssprekendes nie. ``Dat jong rocksterre van die lirieke gebruik, is baie interessant.''
Koos Kombuis noem dit meer as ``interessant''. Volgens hom is hy ``verbaas en bly oor die toenemende gebruik van tradisionele wysies en woorde''.
``In my tyd het ons sulke materiaal ook gebruik, maar dit opgestuur en gesatiriseer, waarskynlik omdat ons dit geassosieer het met negatiewe inligting en met die ou mense van daardie tyd,'' sê dié woord-anargis.
``Jong mense, lyk dit my, is gelukkig om Afrikaans te gebruik en doen dit sonder skuldgevoelens en hang-ups. Die desperate soort veg-vir-die-taal is dikwels afwesig. Hulle geniet die taal vir wat dit is.''
Anton Goosen, wie se konserte gewilder is as ooit, sê Afrikaans lééf onder jong mense. ``Hulle sing byvoorbeeld my en David Kramer se liedjies omdat dit hul roots is. Hulle voel ook vere vir taalpurisme en lawwighede soos Praag. Hulle is van vooroordele gestroop polities en religieus.
``Die crowd in Londen (waar Goosen gereeld dieselfde verskynsel op sy konserte vind) is byvoorbeeld wêreldburgers. Ou of nuwe lirieke, dit maak vir hulle nie saak nie.''
Jong mense beleef 'n samehorigheidsgevoel ``sonder om precious te wees'', sê die Liedjieboer. ``Vir hulle is dit 'n ding van `toevallig is ons Afrikaans'. Hulle veg nie 'n taalstryd nie hulle leef dit eerder.''
Maar dié ``teruggryp na Afrikaans'', soos hy dit noem, neem vele vorme aan. ``Ongelukkig sluit dit ook ``Die Stem''-singery in met brandewyn in die hand en vuilgatliedjies.''
Nee, sê 'n gehoorlid onlangs toe juis dít gebeur het by die Square Tunes-konsert in Pretoria. ``Hulle sing ``Die Stem'' spontaan en sonder bybedoelings. Ook net omdat dit daar is.''
Jong mense het agtergekom dat 'n mens wel in Afrikaans kán sing, meen Adriaan Basson, redakteur van Die Matie, studentekoerant van die Universiteit van Stellenbosch.
``Vroeër het die indruk bestaan dat jy nie in Afrikaans kan rock nie. Nou is dit glad nie meer 'n issue nie. Nuwe rockgroepe het 'n nuwe dimensie aan Afrikaanse musiek gegee en daarom is daar deesdae 'n groter gemaklikheid daaroor.''
En wat die ou liedjies betref, meen hy hulle is ``nou bevry''.
``Jy dink nie eens daaroor nie. As dit 'n lekker song is, dan sing jy.''
Hierdie taalverskynsel word waarskynlik ook op 'n ander vlak weerspieël in die belangstelling onder jong mense in poësie deur nuwer digters soos Gert Vlok Nel en Charl-Pierre Naudé. Hul werk is toeganklik en sonder die ivoortoring-skanse wat Afrikaanse poësie van die ``gewone leser'' kan weghou.
Stassen vind dat byvoorbeeld Ronel Nel se debuutbundel, (en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark), ``baie gewild is onder 'n jonger geslag vroue''.
Baie van dié digters het, interessant genoeg, noue bande met die Afrikaanse musiekwêreld.
Kombuis sê hy vind dat Afrikaans as musiek- en digtaal ``beslis meer divers, meer loslit'' geword het.
``Iets wat my veral opval, is dat vloekwoorde nie meer snaaks genoeg is om bloot as skoktaktiek te gebruik nie. Die pendulum swaai nou terug wat dit betref.''
Dalk ook wat die gebruik van Engels betref?
Dit is waarskynlik nog te vroeg om afleidings te maak, maar tog ontvang JIP, Die Burger, Beeld en Volksblad se jeugpublikasie wat al baie reaksie met sy loslit-taalgebruik ontlok het, al hoe meer briewe van jong lesers wat sê hulle gebruik nie regtig meer só baie Engelse woorde nie.
Was dit dan dalk iets wat hulle ook geërf het van die generasie wat vere gevoel het vir Afrikaans met sy taalbagasie?
Al wat nou nog moet gebeur, is dat 'n nuwe skat van saamsing-liedjies ontstaan. Iets wat by die FAK-liedjies kan oorneem en tot jong mense in hul eie taal in die moderne idioom kan spreek, maar wat tog ook tydloos is.
Die name van kunstenaars wat al daartoe bygedra het, soos Kombuis, Zoid en Valiant Swart, sal in hoofletters in die argief opgeteken word.










